Song of Solomon 8
1 “Ek wens jy was my broer, ek wens jy het ook aan my ma se bors gedrink. As ek jou dan buite in die straat gekry het, dan sou ek jou gesoen het, en niemand sou gedink het dit is verkeerd nie.
2 Ek sou jou na my ma se huis gebring het, en jy sou vir my geleer het van die liefde. Ek sou jou laat drink het van my kruiewyn, van my granaatsap.
3 Sy linker-arm is onder my kop, sy regter-arm is om my lyf.
4 Vroue van Jerusalem, julle moet vir my belowe dat julle ons nie sal wakker maak en nie sal pla nie. Hoekom wil julle ons wakker maak? Ons is lief vir mekaar en ons sal self besluit wat om te doen.”
5 Die vroue sê: “Wie is hierdie vrou wat uit die woestyn kom en wat vashou aan die arm van die man vir wie sy lief is?” Sy sê: “Ek het jou wakker gemaak onder die appelboom, daar is jy gebore, daar het jou ma die pyn gevoel, en daar is jy gebore.
6 Jy moet my soos 'n seëlring teen jou bors druk, soos 'n seëlring om jou arm, want die liefde is so sterk soos die dood, dit is so sterk soos die doderyk, dit is 'n vuur wat warm brand.
7 Baie water kan nie die liefde laat ophou nie, riviere kan dit nie wegspoel nie. 'n Mens kan nie liefde koop nie. As iemand alles wat hy in sy huis het, wil gee om liefde te koop, dan sal mense dink hy is baie dom, hulle sal vir hom lag.”
8 Die broers sê: “Ons suster is nog klein, sy het nog nie groot borste nie. Wat kan ons doen vir ons suster wanneer 'n man haar eendag wil hê?
9 As sy 'n muur was, dan kon ons 'n toring van silwer op haar gebou het, as sy 'n deur was, dan kon ons haar toegemaak het met seder-planke.”
10 Sy sê: “Ek ís 'n muur, en my borste is soos torings, ek maak die man vir wie ek lief is, gelukkig, en daarom word ek vir hom soos iemand wat hy oorwin het.”
11 Hy sê: “Salomo het 'n wingerd gehad in Baäl-Hamon, en hy het sy wingerd vir mense gegee, hulle moes dit oppas. Elkeen moes 1 000 stukke silwer betaal vir die druiwe.
12 Ek pas self my wingerd op. Salomo, jy kan jou 1 000 stukke silwer hou, en ook die 200 stukke silwer wat die mense moet kry wat die druiwe oppas.”
13 Hy sê: “Jy wat in die tuin woon, jou vriende wag om te hoor wat jy sê. Ek wil hoor wat jy vir my sê.”
14 Sy sê: “Man vir wie ek lief is, jy moet gou maak. Jy moet hardloop soos 'n gasel of soos 'n jong takbok op die Balsem-berge.”